Tuesday, 25 September 2018

Kameel Stoepstorie: Ouma Barlow en die dorp Stella

 
 Die dorp Stella het wonderlike kinderdae herinneringe vir my. In besonder Brandstraat.
Brandstraat
Brandstraat 10 soos dit vandag daaruit sien.
 Dit was die straat waarin Oupa Jimmy en Ouma Sannie se huis was. Nommer 10. Vandag lyk Brandstraat heel anders dan wat ek dit as kind kan onthou.
Die Klipsaal word vandag as stoorplek vir die Munisipaliteit gebruik
Brandstraat se huise het elkeen sy eie styl gehad. Almal was wit geverf. Almal naby die straat. 

Die water in Stella is brak want die soutpan lê naby die dorp. Vir baie jare is hier sout ontgin. Ongeag die brak water was daar heel party windpompe in die dorp, want almal het groentetuine gemaak. Ouma Sannie het ‘n Lemon Verbena by die agterdeur gehad. Dit was ‘n fees om die blare tussen ons hande te vryf en dan die reuk vir die hele dag saam te dra. ‘n Lekker vrugteboord was oupa se pride and joy. Die ingelgde geelperskes met dik vla, was ons kinders se gunsteling.
 Die Soutpanne na goeie reën
Oupa en Ouma was altwee kinders van die Willowmore, Patensie en die Gamtoos, soos Oupa het altyd na die Kolonie verwys as sy grootword wêreld gepraat het. Hy en Ouma het mekaar van kindsbeen geken. Hy het die plaas Langverwagt naby Kameel gekoop. Op hul oudag het hulle op Stella afgetree.

Ouma het geduld gehad met ons. Sy het die fynste kant hekel met sulke fyn gare en ‘n blink hekelpen. Dollies was ‘n groot gunsteling. Elkeen het die mooiste glaskrale gehad. Dit het geklingel wanneer sy die koffie ingebring het en dit oor die melkbertjie daarmee toegemaak was. Sy het geduld gehad om my te leer hekel – hotklou en al.

Die kombuis het ‘n houttafel gehad. So wit geskrop naby die koolstoof. In die eetkamer was ‘n bal-en-klou tafel wat ‘n verlengstuk gehad het. Op Sondae was die tafel gedek met ‘n gehekelde tafeldoek en haar beenhef eetgerei. Sy sou op ‘n oggend bel en sommer so terloops sê dat sy my pa se gunsteling skaapboud gaar gemaak het en ons moes oorkom vir ete. Sy kon selfs haar skoonseun onder ‘n wip vang met haar kos wat altyd vol verrassings was. Wanneer dit vetkoekdag was, was dit wonderlik om die vormpies van die vetkoeke in die olie te probeer assosieer met ‘n diertjie. Eendjies en hasies was altyd ‘n reg raai.

Ouma het lang hare gehad. Sy het dit in ‘n lang vlegsel aan die eenkant van haar kop gevleg en dan om haar kop gedraai. Na Oupa oorlede is en Ouma by haarself gewoon het, het die dogters op ‘n dag besluit – Ouma se hare moes kort geknip word. Wat ‘n tragedie was dit. Ouma kon nooit met die kort hare vrede maak nie. Ek het baie dae my tas gepak om by ouma te gaan bly maar het maar elke keer weer terug gekom huis toe.

Ouma Sannie het ook die swaar van die lewe geken. Haar een dogtertjie is oorlede en twee van Ouma se seuns is tydens WWII oorlede. Ek het altyd gewonder hoe sy dit oorleef het want daar was altyd ‘n glimlag op haar gesit. Oupa en Ouma met hul kinders op hul 50ste huweliksherdenking

Ouma het nog in die tyd van briewe skryf gelewe. Onlangs het ek hierdie stukkie kosbaarheid van ‘n niggie ontvang. Die brief is gerig aan haar suster, Tant Pollie, wat in Uitenhage gewoon het. Die inhoud is kosbaar!



Tot volgende keer

Sandra en Hennie

No comments:

Post a comment